Diepruimte

’n Paar newels in die sterrebeeld Jagter wat algemeen as "diepruimtevoorwerpe" bekend is.

Diepruimte (Engels: deep sky) is ’n begrip wat in amateursterrekunde gebruik word vir ruimtevoorwerpe wat buite ons sonnestelsel val (dus nie asteroïede, planete of komete nie), maar nie enkele sterre is nie.[1][2] Onder diepruimtevoorwerpe tel newels, sterreswerms en sterrestelsels.

Die begrip diepruimte is geen klassifisering van voorwerpe volgens hul afstand van die Aarde af nie; hulle kan redelik naby wees, soos Messier 45 (430 ligjare), of baie ver, soos Messier 51 (sowat 35 miljoen ligjare).

Verskeie klassifiseringstelsels word gebruik vir diepruimtevoorwerpe. Twee van die bekendstes is die Messier-katalogus en die New General Catalogue. Eersgenoemde is ’n lys wat in die 18de eeu deur Charles Messier opgestel is van 110 voorwerpe wat met komete verwar kan word. Die tweede katalogus, ook bekend as die NGC, is in 1888 opgestel en bevat byna 8 000 voorwerpe.

  1. Fred Schaaf, 40 nights to knowing the sky: a night-by-night skywatching primer, page 113
  2. Ian Ridpath, The illustrated encyclopedia of the universe, bl. 273

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search